Donderdag 15 Januarie 2015

Afdeling 1

1. NUWE WYN KOM NOU IN BOTTELS.
‘n Bekende metafoor wat in drie Evangelies opgeteken is, is die een van nuwe wyn. Jesus sê ‘n mens gooi nie nuwe wyn in ou velsakke nie, maar in nuwe sakke, sodat die wyn behoue kan bly. Sy stelling het betrekking gehad op die nuwe leerstellings wat hy aan hulle voorgehou het. En wat het die vroeë volgelinge van Jesus gedoen? Hulle het summier die nuwe lering in die ou velsakke van Judaïsme gaan ingooi. Na tweeduisend jaar is daardie velsakke lankal tot niet en die wyn wat oorgebly het is verwater en besoedel. Tye het verander. Vandag gebruik ons bottels om wyn in te hou, en selfs nie eers meer kurkproppe nie, maar skroefproppe. En na ‘n klompie jare sal die skroefproppe ook tot niet wees en nuwe materiaal sal gebruik word. Maar die wyn word steeds van druiwe gepars, en die nuwe wyn behou steeds daardie oorspronklike eienskappe van die druiwestok.
Die Evangelie van Christus het deur die eeue talle aanslae suksesvol weerstaan – en tereg ook, want dit bevat die wenresep waardeur die mens herenig word met sy ewige Vader. Die leerstellings van Jesus is nog net so relevant soos tweeduisend jaar gelede. Hulle is egter in baie gevalle subtiel en minder subtiel verander deur die verwysingsraamwerk van die volgelinge wat dit oorgedra het. Soms was die veranderings doelbewus en polities van aard; meer dikwels was dit die gevolg van die persepsie van die skrywer of prediker.  Baie van hierdie aanslae het nie van vyande gekom nie, maar juis van mense wat die boodskap na die res van die mensdom wou uitdra: die skrywers, die kerkvaders wat moes besluit wat opgeneem en wat weggelaat moes word, welmenende Christene wat hulle eie oortuigings ingevoeg het om dit vir hulle meer verstaanbaar of aanvaarbaar te maak. Die vertalers het ook nie ‘n maklike taak gehad nie, want veral die dele waar Jesus aangehaal word, is noodwendig vertaal soos die vertaler die teks vanuit sy eie verwysingsraamwerk verstaan het, soos dit ook die geval was met die oorspronklike geskiedskrywers.
Die gevolg van hierdie meestal onbedoelde of onbewuste veranderings is dat die mensdom steeds na 2 000 jaar kou aan iets wat soms onverteerbaar en nie baie voedsaam is nie. Geen wonder dat die wêreld op die oomblik in ‘n staat van totale chaos verkeer nie. Dit is deur die profete voorspel. Die profete het egter nie gebeure voorspel net om te sê hoe sleg dit sal gaan nie. Hulle het juis die gawe van profesie gekry om mense ‘n kans te gee om toestande te verander.
Kyk net ‘n bietjie na sekere van Jesus se – vir sy tyd – radikale veranderings: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê...” (Matt 5:41) Tog is daar vandag nog Christene wat glo dat liefde nie uitgebrei moet word na almal, ongeag hulle geloof, nie. Dit word beskou as “humanisme” wat blykbaar nie aanvaarbaar is nie. Die gedagterigting is skynbaar dat liefde binne die kerkgemeenskap nodig is, maar dat liefde vir die vyand, of vir jou naaste wat nie in die kerk is nie, gladnie bedoel word nie.
“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Maar ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie...” (Matt. 5:38) As Christene hierdie riglyn nougeset gevolg het was daar nie meer oorloë nie; was die kruisvaarte  en die inkwisisie nie daar nie; en was die gedagte aan wraak nie meer ‘n faktor in die Christelike gemeenskap nie.
Ten opsigte van moord en kuisheid het Jesus die wetmatigheid daarvan ondergeskik gestel aan die gesindheid wat aanleiding gee tot liefdelose gedrag. 
Het dit nie tyd geword dat Jesus se resep vir die kosbare wyn van bevryding weer afgestof en noukeurig gevolg word nie? Nuwe ontdekkings van ou geskrifte het die woorde van Jesus op ‘n ander manier belig. Al lyk dit nie altyd so nie, het die mensdom geestelik gegroei en gevorder tot op ‘n punt waar hierdie waarhede werklik ‘n fenomenale verandering kan bring as hulle toegepas word. Die resep bly steeds ‘n wenresep; of liewer ‘n wen-wen resep,  want in die konteks van nuwe uitvindings in die fisika, kwantum-fisika en metafisika is daar toenemend klem op die belangrikheid van samewerking, van die voordele om gesamentlik ‘n beter lewe vir almal te skep.  Dit pas pragtig in by die wenresep.
Vandag wil ek net stil word. Eers fokus ek op my liggaam en maak seker dat ek heeltemal ontspanne is, dat die frons op my gesig uitgevee is en my skouerblaaie los is. Nou vra ek die Vader om my denke stil te maak. Ek haal ‘n aantal kere diep asem* en sug die spanning uit. Nou kan ek stil word en na binne luister. Die geluide buite myself ignoreer ek. Ek word net stil....stil... stil....As daar gedagtes of ‘n teksvers by my opkom, neem ek kennis daarvan en hou net aan om stil te wees... Dan is ek met ‘n dankgebed terug in my spasie om voort te gaan met my lewe.Enige gedagtes wat vir my belangrik is, word in my dagjoernaal opgeteken, want al dink ek dat ek dit nooit sal vergeet nie, is dit môre soos ‘n droom – weg.
*Nota: Diep asemhaling: Probeer om die asemhaling agter in jou keel te doen sodat dit klink soos die branders op die strand, met ander woorde, jou asemhaling is hoorbaar. Dit help om jou in ‘n dieper vorm van stilte te bring.
Joernaal: 'My Self is like a bubble, floating upwards to catch the first rays of the morning sun. It vanishes in a burst of colours, blending with the One. The colours and the light sift down upon this body and the earth, bringing blessings in showers of light.'
Eendag in ‘n meditasie het die volgende beeld na my gekom: dit was soos ‘n tweegesprek. ‘Wat sien jy?’ “Ek sien ‘n lig, maar nie die volle lig nie, meer soos die gloed van ‘n lig agter ‘n bult” ‘Gaan hoër op dat jy meer kan sien’ Ek het opgegaan, soos in ‘n ballon, en toe kon ek agter die bult sien: duisende vlammetjies wat saam ‘n groot Lig gevorm het. ‘Dit is soos julle liggies, almal afsonderlik. Maar sodra julle uitstyg bo julle klein self, smelt die Lig saam en word een.’ Dit het die begrip van die Gees as Universele Denke vir my tuisgebring. Soos ek dit verstaan is die siel dus deel van die Heilige Gees, maar die indiwiduele sprankie in elke mens.

(Jou joernaal):

Dinsdag 13 Januarie 2015

Inleiding


My spirituele reis duur reeds ‘n hele aantal dekades. Miskien het dit begin toe ek die eerste keer net stil geword en geluister het. Voor daardie besondere dag, en vir jare daarna, was my godsdiensbeoefening diè van die meeste mense: gaan gereeld kerk toe; lees my Bybel; bid; en glo. Die waarhede in die Bybel was vir my ‘n ondersteuning en ek het werklik probeer om my geloof uit te lewe.
Daardie dag het iets met my gebeur wat my laat voel het dat ek nog niks van die Goddelike weet nie; dat ek nou eers ervaar wat God in my lewe kan wees. Maar dit het verbygegaan. En alhoewel ek soekend was na daardie oomblik van waarheid, het ek steeds gebly by dit wat ek geleer het.
Eers later het ek begin om werklik te delf in die diepte van my eie gemoed. Ervaring van die Allerhoogste kom nie van buite nie. Dit is diep in die mens self gebêre en jou innerlike oortuiging is nodig om dit te ontsluit.
“Hy laat my neerlê in groen weivelde. Na waters waar rus is, lei Hy my heen.” (Ps 23)
Hierdie oordenkings is bedoel om stelselmatig die reis aan te pak en voort te sit. Verbeel jou jy is ‘n koei, wat vir ‘n paar uur die welige groen gras vreet. Dan gaan lê sy en herkou die kos totdat dit goed verteer is voordat sy weer gaan vreet. En terwyl sy vreet, word die verteerde voedsel deur elke sel in haar liggaam opgeneem en gebruik. Dit is nodig om die dieper waarhede as’t ware eers te herkou voordat ‘n mens verder gaan.  Daar sal dele  wees waarmee jy mag stoei, om uiteindelik ‘n oplossing te vind wat jou eie waarheid is – wat glad nie met myne ooreenstem nie. Ander dele mag jou verveel, en kan gerus maar oorgeslaan word, of later bekyk word. Elke mens se reis is uniek. Ek hoop egter dat dit wat hier bespreek word, wat slegs my eie menings weergee, jou sal prikkel om jou eie reis met mening aan te pak en die hoogtes en dieptes van jou siel self te ervaar.
Die hoofstukke, oordenkings of "dinkstukke" is so beplan dat elke deel gebruik kan word as ‘n stiltetyd op sy eie. Gebruik die inhoud volgens jou persoonlike behoeftes. Dit was nie my idee om twee en vyftig hoofstukke te skryf nie. Ek het eers tydens die afronding die nommers bygevoeg. Miskien is dit ‘n wenk van die Gees om dit ‘n jaarprojek te maak, sodat jy (of jou groepie) ‘n week aan ‘n oordenking kan herkou. Ek weet nie. Die beplanning is dat daar elke week 'n volgende hoofstuk geplaas word.
Dis ‘n goeie idee om ‘n notaboekie of joernaalboek byderhand te hê tydens jou stil tye. Skryf na die tyd jou eie waarnemings, insigte en moontlike vrae neer. Gaan van tyd tot tyd terug na jou aantekeninge en kyk of daar groei of verandering in jou plaasgevind het.
Afdeling 1 en 2  bevat baie van die inhoud van my eerste twee boeke: “Die Wenresep van Christus” en “Die Krag van Stilte”. In daardie boeke word die teksverwysings breedvoerig aangedui en die onderwerpe meer volledig bespreek. Dit is maar die pad wat ek self geloop het op my spirituele reis.
 Afdeling 3 kan byna gesien word as die eerste vruggies wat gepluk word na die werk wat reeds gedoen is. As jy tot hier vorder mag die Gees jou lei om op jou eie ontdekkingstog te gaan en nuwe terreine te betree, nuwe vorms van diens aan te pak en jou eie nuwe vergesigte te sien. Ek het my werk aan genesing, psigiese vermoëns en die ondersoek van die energiebronne baie geniet. Ek hoop jy geniet ook jou reis!
VERWYSINGSRAAMWERKE EN TERME
Voordat ons na die resep vir vernuwing kan kyk is dit nodig om ‘n aantal terme te bespreek soos dit hier gebruik sal word. Baie terme word deur verskillende mense en instansies op eiesoortige maniere gebruik en daar kan maklik verwarring plaasvind. Ander gebruike vir die terme is nie “verkeerd” nie, maar ek wil graag seker maak dat my gebruik daarvan verstaan word soos ek dit bedoel. Daar is ook sommige terme of begrippe wat nie maklik in Afrikaans vertaal nie. Ek het in my eie gemoed probeer duidelikheid kry vir sulke begrippe  en gee  my bedoeling van hierdie terme soos ek dit vertaal. Hiermee saam gaan ook my persoonlike verwysingsraamwerk en die manier waarop ek dinge verstaan en interpreteer.
Verwysingsraamwerk:
  Soos ek telkens bevestig, is my agtergrond dieselfde as die meeste Afrikaners s’n – Christelik georiënteer. Daarom skryf ek vanuit die verwysingsraamwerk van ‘n Christen. Die invloed wat my pa, ‘n NG predikant, op my gehad het, was baie sterk. Sy hele uitgangspunt was altyd om die liefde van God te beklemtoon. Ek het nooit in my huis die oordeel en straf van ‘n toornige God leer ken nie. Daarom was dit vir my baie maklik om sonder vrees vir vergelding ook ander sienswyses te ondersoek. Daarom kon ek in alle godsdienste die goue draad van liefde optel en besef dat God veel groter is as dit wat in ‘n bepaalde kerk geleer word.
Ek sal dikwels na die Bybel terugverwys omdat dit ook my lesers se agtergrond is.  Dit beteken nie dat ek ander geskrifte nie respekteer en ag nie, ek ken hulle net nie so goed nie. Sommige van my stellings mag as kritiek teen die kerk gesien word.Maar sonder die kerk en  godsdienstige instellings sou min mense tot ‘n besef van God gekom het. Ek glo egter  dat elke mens op sy eie bepaalde spirituele reis is en presies daar is waar hy gemaklik voel. Daar is mense soos ek wat vrae het, ‘n behoefte om wyer te soek en antwoorde te vind wat nie presies by die kerk se sienswyses inpas nie. Vir hulle mag dit wat ek ervaar het tot hulp wees. En party ander het nodig om soms uit hulle gemaksone gehaal te word om ‘n ryker, voller lewe te ontdek!
Terme:
Die siel: Wanneer ek na die siel verwys beteken dit daardie individuele sprankie van die Goddelike wat deur die Skepper in my wese geplaas is. Dit is die deel van my wat ewig is, wat nooit vernietig kan word nie  en wat weer sal terugkeer na die Vader, dit is die ware Ek. My bewuste denke is wel deel van die siel, maar is nie altyd in kontak daarmee nie, net wanneer ek stil word en bewustelik uitreik na God. Dit kan ook die Superbewuste genoem word, die Ek Is wat in ‘n baie nouer verbintenis met die Goddelike staan. Die siel is gees en nie deel van die fisiese liggaam nie. Die siel gebruik die liggaam as ‘n instrument om die fisiese wêreld te beleef.
Die Gees: As ek die term “die Gees” (met ‘n hoofletter) gebruik, bedoel ek die Heilige Gees wat my oorskadu, wat altyd by my is, die tussenganger tussen my en God. Die Gees is deel van die Godheid, maar vir elke mens meer persoonlik toeganklik wanneer hy stil word en luister. Die siel en Gees is baie naby mekaar, omdat ons almal deel vorm van die Groot Geheel, die Eenheid. Daarom kan ek, die bewuste een, nie altyd die verskil agterkom nie, en sal die twee terme soms sò gebruik dat ‘n verskil nie duidelik is nie.
Joernaal: Ek haal aan uit my eie dagboek; insigte wat ek tydens meditasie ontvang het.  Dink daaraan om jou eie gedagtes ook na die Stiltetyd neer te skryf. My insigte kom dikwels in Engels na my en ek haal dit so aan.
Die ego: is nog ‘n term wat ek gebruik. In my konteks gebruik ek die woord “ego” wanneer ek praat van die klein “ek”, of die “eie ek”, die persoonlikheid wat ek op hierdie stadium weergee. Die ego is ‘n persona wat ek aanneem sodra ek as klein kind myself begin sien as afsonderlik van ander, om myself in hierdie lewe te laat geld. Dit is nie my ewige indiwidualiteit nie, maar die mens wat ek tans projekteer. Die ego is diè deel van my wat nie saamgaan as ek hierdie lewe verlaat nie. Dit maak dat die ego bedreig voel en sal probeer om my terugkeer na die Vaderhuis te kelder. Die Eie Ek staan in opposisie teen die Self, die Gees. Daarom  vorm dit ‘n skans tussen my en die Gees.
Deernis is die woord waarmee ek “gentleness” vertaal. Dit is teerheid, soos ‘n ma wat die kombers oor haar slapende kindjie vou. Maar dit is ook die sagte stem van ‘n boer wat ‘n senuagtige perd kalmeer; die empatie waarmee ‘n pa vir sy seun sal vertel dat sy geliefde ou hond dood is; die begrip waarmee ‘n verpleegster ‘n verwarde ou man sal antwoord. Dit is nie swakheid nie, maar sagtheid wat uit ‘n bron van krag en begrip ontspring.