Dinsdag 13 Januarie 2015

Inleiding


My spirituele reis duur reeds ‘n hele aantal dekades. Miskien het dit begin toe ek die eerste keer net stil geword en geluister het. Voor daardie besondere dag, en vir jare daarna, was my godsdiensbeoefening diè van die meeste mense: gaan gereeld kerk toe; lees my Bybel; bid; en glo. Die waarhede in die Bybel was vir my ‘n ondersteuning en ek het werklik probeer om my geloof uit te lewe.
Daardie dag het iets met my gebeur wat my laat voel het dat ek nog niks van die Goddelike weet nie; dat ek nou eers ervaar wat God in my lewe kan wees. Maar dit het verbygegaan. En alhoewel ek soekend was na daardie oomblik van waarheid, het ek steeds gebly by dit wat ek geleer het.
Eers later het ek begin om werklik te delf in die diepte van my eie gemoed. Ervaring van die Allerhoogste kom nie van buite nie. Dit is diep in die mens self gebêre en jou innerlike oortuiging is nodig om dit te ontsluit.
“Hy laat my neerlê in groen weivelde. Na waters waar rus is, lei Hy my heen.” (Ps 23)
Hierdie oordenkings is bedoel om stelselmatig die reis aan te pak en voort te sit. Verbeel jou jy is ‘n koei, wat vir ‘n paar uur die welige groen gras vreet. Dan gaan lê sy en herkou die kos totdat dit goed verteer is voordat sy weer gaan vreet. En terwyl sy vreet, word die verteerde voedsel deur elke sel in haar liggaam opgeneem en gebruik. Dit is nodig om die dieper waarhede as’t ware eers te herkou voordat ‘n mens verder gaan.  Daar sal dele  wees waarmee jy mag stoei, om uiteindelik ‘n oplossing te vind wat jou eie waarheid is – wat glad nie met myne ooreenstem nie. Ander dele mag jou verveel, en kan gerus maar oorgeslaan word, of later bekyk word. Elke mens se reis is uniek. Ek hoop egter dat dit wat hier bespreek word, wat slegs my eie menings weergee, jou sal prikkel om jou eie reis met mening aan te pak en die hoogtes en dieptes van jou siel self te ervaar.
Die hoofstukke, oordenkings of "dinkstukke" is so beplan dat elke deel gebruik kan word as ‘n stiltetyd op sy eie. Gebruik die inhoud volgens jou persoonlike behoeftes. Dit was nie my idee om twee en vyftig hoofstukke te skryf nie. Ek het eers tydens die afronding die nommers bygevoeg. Miskien is dit ‘n wenk van die Gees om dit ‘n jaarprojek te maak, sodat jy (of jou groepie) ‘n week aan ‘n oordenking kan herkou. Ek weet nie. Die beplanning is dat daar elke week 'n volgende hoofstuk geplaas word.
Dis ‘n goeie idee om ‘n notaboekie of joernaalboek byderhand te hê tydens jou stil tye. Skryf na die tyd jou eie waarnemings, insigte en moontlike vrae neer. Gaan van tyd tot tyd terug na jou aantekeninge en kyk of daar groei of verandering in jou plaasgevind het.
Afdeling 1 en 2  bevat baie van die inhoud van my eerste twee boeke: “Die Wenresep van Christus” en “Die Krag van Stilte”. In daardie boeke word die teksverwysings breedvoerig aangedui en die onderwerpe meer volledig bespreek. Dit is maar die pad wat ek self geloop het op my spirituele reis.
 Afdeling 3 kan byna gesien word as die eerste vruggies wat gepluk word na die werk wat reeds gedoen is. As jy tot hier vorder mag die Gees jou lei om op jou eie ontdekkingstog te gaan en nuwe terreine te betree, nuwe vorms van diens aan te pak en jou eie nuwe vergesigte te sien. Ek het my werk aan genesing, psigiese vermoëns en die ondersoek van die energiebronne baie geniet. Ek hoop jy geniet ook jou reis!
VERWYSINGSRAAMWERKE EN TERME
Voordat ons na die resep vir vernuwing kan kyk is dit nodig om ‘n aantal terme te bespreek soos dit hier gebruik sal word. Baie terme word deur verskillende mense en instansies op eiesoortige maniere gebruik en daar kan maklik verwarring plaasvind. Ander gebruike vir die terme is nie “verkeerd” nie, maar ek wil graag seker maak dat my gebruik daarvan verstaan word soos ek dit bedoel. Daar is ook sommige terme of begrippe wat nie maklik in Afrikaans vertaal nie. Ek het in my eie gemoed probeer duidelikheid kry vir sulke begrippe  en gee  my bedoeling van hierdie terme soos ek dit vertaal. Hiermee saam gaan ook my persoonlike verwysingsraamwerk en die manier waarop ek dinge verstaan en interpreteer.
Verwysingsraamwerk:
  Soos ek telkens bevestig, is my agtergrond dieselfde as die meeste Afrikaners s’n – Christelik georiënteer. Daarom skryf ek vanuit die verwysingsraamwerk van ‘n Christen. Die invloed wat my pa, ‘n NG predikant, op my gehad het, was baie sterk. Sy hele uitgangspunt was altyd om die liefde van God te beklemtoon. Ek het nooit in my huis die oordeel en straf van ‘n toornige God leer ken nie. Daarom was dit vir my baie maklik om sonder vrees vir vergelding ook ander sienswyses te ondersoek. Daarom kon ek in alle godsdienste die goue draad van liefde optel en besef dat God veel groter is as dit wat in ‘n bepaalde kerk geleer word.
Ek sal dikwels na die Bybel terugverwys omdat dit ook my lesers se agtergrond is.  Dit beteken nie dat ek ander geskrifte nie respekteer en ag nie, ek ken hulle net nie so goed nie. Sommige van my stellings mag as kritiek teen die kerk gesien word.Maar sonder die kerk en  godsdienstige instellings sou min mense tot ‘n besef van God gekom het. Ek glo egter  dat elke mens op sy eie bepaalde spirituele reis is en presies daar is waar hy gemaklik voel. Daar is mense soos ek wat vrae het, ‘n behoefte om wyer te soek en antwoorde te vind wat nie presies by die kerk se sienswyses inpas nie. Vir hulle mag dit wat ek ervaar het tot hulp wees. En party ander het nodig om soms uit hulle gemaksone gehaal te word om ‘n ryker, voller lewe te ontdek!
Terme:
Die siel: Wanneer ek na die siel verwys beteken dit daardie individuele sprankie van die Goddelike wat deur die Skepper in my wese geplaas is. Dit is die deel van my wat ewig is, wat nooit vernietig kan word nie  en wat weer sal terugkeer na die Vader, dit is die ware Ek. My bewuste denke is wel deel van die siel, maar is nie altyd in kontak daarmee nie, net wanneer ek stil word en bewustelik uitreik na God. Dit kan ook die Superbewuste genoem word, die Ek Is wat in ‘n baie nouer verbintenis met die Goddelike staan. Die siel is gees en nie deel van die fisiese liggaam nie. Die siel gebruik die liggaam as ‘n instrument om die fisiese wêreld te beleef.
Die Gees: As ek die term “die Gees” (met ‘n hoofletter) gebruik, bedoel ek die Heilige Gees wat my oorskadu, wat altyd by my is, die tussenganger tussen my en God. Die Gees is deel van die Godheid, maar vir elke mens meer persoonlik toeganklik wanneer hy stil word en luister. Die siel en Gees is baie naby mekaar, omdat ons almal deel vorm van die Groot Geheel, die Eenheid. Daarom kan ek, die bewuste een, nie altyd die verskil agterkom nie, en sal die twee terme soms sò gebruik dat ‘n verskil nie duidelik is nie.
Joernaal: Ek haal aan uit my eie dagboek; insigte wat ek tydens meditasie ontvang het.  Dink daaraan om jou eie gedagtes ook na die Stiltetyd neer te skryf. My insigte kom dikwels in Engels na my en ek haal dit so aan.
Die ego: is nog ‘n term wat ek gebruik. In my konteks gebruik ek die woord “ego” wanneer ek praat van die klein “ek”, of die “eie ek”, die persoonlikheid wat ek op hierdie stadium weergee. Die ego is ‘n persona wat ek aanneem sodra ek as klein kind myself begin sien as afsonderlik van ander, om myself in hierdie lewe te laat geld. Dit is nie my ewige indiwidualiteit nie, maar die mens wat ek tans projekteer. Die ego is diè deel van my wat nie saamgaan as ek hierdie lewe verlaat nie. Dit maak dat die ego bedreig voel en sal probeer om my terugkeer na die Vaderhuis te kelder. Die Eie Ek staan in opposisie teen die Self, die Gees. Daarom  vorm dit ‘n skans tussen my en die Gees.
Deernis is die woord waarmee ek “gentleness” vertaal. Dit is teerheid, soos ‘n ma wat die kombers oor haar slapende kindjie vou. Maar dit is ook die sagte stem van ‘n boer wat ‘n senuagtige perd kalmeer; die empatie waarmee ‘n pa vir sy seun sal vertel dat sy geliefde ou hond dood is; die begrip waarmee ‘n verpleegster ‘n verwarde ou man sal antwoord. Dit is nie swakheid nie, maar sagtheid wat uit ‘n bron van krag en begrip ontspring. 



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking